Ons dink: 3/5

2012

90 min

13OG

Animasieavontuur

Merida (met Kelly Macdonald se stem), ’n Skotse prinses en regte rabbedoe, voel vasgekeer toe haar ma, koningin Elinor (Emma Thompson), besluit sy moet trou om die bande tussen die clans van die Skotse Hoogland te versterk. Selfs nadat sy haar vryers in ’n kompetisie geklop het, hou Elinor voet by stuk. Merida vra ’n heks ’n spreuk om haar ma te verander, maar dit het rampspoedige gevolge.

Dié fliek van die voorste animasie-ateljee Pixar wyk af van hul avonture soos Finding Nemo en Toy Story. Dié keer volg dit die Disney-formule van ’n vurige prinses wat haar lot wil verander. Al wend Pixar ’n lofwaardige poging aan om die storie in ’n vars rigting te stuur, is die kinkel in die kabel nie goed deurdink nie en ’n groot teleurstelling ná die boeiende eerste helfte.

Die lewensles daarin is ook onduidelik: Moet jy jou drome volg of jou plig nakom? Maar die animasie is pragtig en Skotse aksente van die stemkunstenaars (onder andere Billy Connolly as Merida se pa) is ’n plesier om na te luister.

– SANDRA VISSER