Historiese drama.

Met Rachel Weisz en Oscar Isaac.

Regie: Alejandro Amenábar.

2009.

122 min. 13G.

Ons dink: 3/5

In die vierde eeu ná Christus wy die filosoof en weten-skaplike Hypatia (Weisz) in Alexandrië, Egipte, haar lewe aan studie en onderrig.

Maar terwyl sy die bewegings van die planete bestudeer, veg Christene, heidene en Jode verwoed om politieke beheer oor die oorblyfsels van die Romeinse Ryk.

Nadat ’n bende Christene die stad se biblioteek – die grootste in die geskiedenis en ’n simbool van onderrig – verwoes het, is Hypatia se lewe in gevaar.

Die rolprent, wat op geskiedkundige gebeure gegrond is, gaan eintlik oor ’n oorlog tussen die wetenskap en godsdiens.

Die magsugtige, fundamentalistiese Christen-leiers beskou ’n liberale, rasionele vrou soos Hypatia as ’n bedreiging en gebruik seksistiese vertolkings van hul “Woord van God” om haar te vernietig.

En nadat godsdiens die wetenskap oorwin het, begin die Donker Eeue.

Dis ’n ernstige, veeleisende kyk-ervaring met baie bloedvergieting en nie almal sal dit geniet nie.

Maar dis ’n boeiende verhaal met duidelike ooreenkomste met die bedreiging wat godsdiens­tige onverdraagsaamheid vandag nog inhou.