Ons dink: 3/5

2011

86 min

16TDSN

Komedie

Die akteurs JOHN CHO en KAL PENN het met flieks soos Harold & Kumar Go to White Castle (2004) en Harold & Kumar Escape from Guantanamo Bay (2008) die genre flieks oor daggakoppe behoorlik oorgeneem. Hulle volg in die komedie-duo Cheech & Chong van die 70’s se voetspore, maar sorg vir hul eie kinkels: Albei is Asiaties-Amerikaans – die Koreaan Harold is ’n yuppie (maar probeer dit wegsteek) en die Indiër Kumar se wêreld draai om “hoog” wees. Die draaiboeke en regie is ook beter.

In dié fliek het die vriende uitmekaargedryf. Harold is getroud en werk en Kumar is steeds behep met sy waterpyp. Toe Kumar Harold ’n Kersboom help soek om sy skoonmense te beïndruk, begin ’n Kerstyd-malligheid wat herinner aan The Hangover. Dinge raak effe vreemd, soos wanneer die aksie na klei-animasie oorskakel. Hou jou oë oop vir Neil Patrick Harris (How I Met Your Mother) in ’n uitstekende kameerol. Dit is laf, maar hope pret.

– WILLEM MÖLLER