Ons dink: 4/5

Swart komedie. 2009. Met Michael Stuhlbarg, Aaron Wolff, Sari Lennick en Richard Kind.

Regie: Joel en Ethan Coen.

101 min. 13TD.

Met Fargo en The Big Lebowski het die Coen-broers al gewys hulle is meesters van swart komedie.

Hulle is op hul onmoontlike, stylvolle beste in hierdie fliek wat in 1967 in ’n Joodse gemeenskap in Amerika se Middeweste afspeel.

Die fisikaprofessor Larry Gopnik (Stuhlbarg) sien uit na sy seun (Wolff) se barmitswa en na bevordering by die werk, maar dan stort sy lewe in duie.

Sy vrou (Lennick) wil skei, trek sy bankrekening leeg en skop hom uit die huis; ’n student probeer hom afpers vir beter punte, en sy werklose broer (Kind) laat hom met die gereg bots.

Waarom gebeur dit alles met hom? In die aangesig van ’n groot bestaanskrisis rook hy dagga saam met sy sexy buurvrou en soek antwoorde by rabbi’s wat in raaisels praat . . .

Die rolprent skop met ’n (versinde) raaiselagtige Joodse volksverhaal af en is ’n wipwaentjierit deur die lewe se groot vrae tot die slot jou laat duisel.

Meesterlike regie, foutlose spel en ’n slim draaiboek maak dit ’n snaakse, tragiese, onvergeetlike rit.

Bonus: kortfliek