Wat ’n foto is dit nie! Twee leeuwyfies en ’n luiperd in een skadukol.

’n 26-jarige man van Johannesburg het die ongelooflike oomblik vasgelê toe drie groot katte op 8 Augustus naby mekaar in die Krugerwildtuin, naby die Phabeni-hek, uitgespan het.

Mike de Beer het aan Huisgenoot vertel hy was op ’n wildbesigtigingsrit saam met pelle en het van die pad afgetrek toe hy sien nog drie motors het stilgehou. Die groep het eers nie geweet waarna die ander besoekers kyk nie.

“Drie ander motors het by die plek stilgehou en die mense het gesê daar’s ’n luiperd in die boom,” vertel die ywerige fotograaf. “Ons kon dit nie sonder verkykers sien nie, toe gebruik ek my kamera om mee in te zoem.”

Maar toe hy eindelik die luiperd sien, het iets anders sy oog gevang . . .

“Toe sien ons twee leeuwyfies wat onder die boom sit en vir die luiperd wag. Hulle was glo daar sedert die vorige dag.”

Sien jy hulle? Gebruik die funksie onder om te sien waar die gekamoefleerde katte wegkruip...