“Jy’s lankal nie meer die plaasdogtertjie uit Suid-Afrika nie. Jy is ’n Europeër en jy is óf ’n opera­ster óf jy is niemand nie.”

Deborah Deysel se agent is nie baie geduldig met haar nie, maar die joernaliste by die hekke van die Von Richter-villa het haar ontstel. Sy is die eerste keer terug in Zürich ná ’n skandaal ’n jaar tevore. Sy het allermins lus vir ’n skare personeel wat haar oppiep en die nimmereindigende musiekaande en partytjies.

As sy net hierdie winter kon kry om tot verhaal te kom . . . Maar dan hoor sy dat die man wat saam met haar by die skandaal betrokke was, waarlik weer wil kontak maak; hy die sterdirigent, sy die ster­sopraan.

Isa Konrad weef die wêrelde van opera en misdaad ineen met ’n buite-egtelike verhouding, moorde en misverstande. Die skrywer, wat in Namibië grootgeword het, woon self in Zürich en skets ’n kleurryke agtergrond vir hierdie lekker spanningsroman. – MIA ELS