WAARUIT bestaan ’n onderwyser se dagtaak hoofsaaklik? Woorde!

Woorde om die leerders te groet

Woorde om te dissiplineer

Woorde om te reël en organiseer

Woorde om moeilike vakinhoude te verduidelik

Woorde om te troos en te bemoedig

Woorde om so nou en dan ’n grappie te maak

Woorde om langs die sportveld te ondersteun

Woorde om die senuwees agter die verhoog tot bedaring te bring

Kwaai woorde, hulpwoorde, toemaarwoorde, soms seermaakwoorde . . .

Soms moet ons te midde van elke dag se gejaag stil word en ’n paar minute lank fokus op die dinge wat werklik belangrik is.

Dink terug aan jou eie skooldae en die woorde van ’n onderwyser wat jou altyd sal bybly . . . hetsy omdat dit baie vir jou beteken het, of omdat dit dalk vir altyd ’n letsel op jou gemoed gelaat het.

Sulke nadenke laat ’n mens net weer besef dat die woorde wat uit jou mond kom ’n kind kan maak of breek, en daarom moet ons tog só versigtig wees wat ons sê.

Aan die ander kant is dit ook waar dat ’n onderwyser se woorde maklik deur leerders verdraai word om hulle te pas of hulle uit die moeilikheid te hou. Om nie eens te praat van stories wat ’n onderwyser kwansuis sou vertel het nie . . .

Maar kom ons fokus op die positiewe. Kom ons as onderwysers gebruik ons woorde om die leerders in ons klasse op te bou en aan te moedig. Dat die leerders wat nou in ons klasse sit, oor ’n paar jaar as volwassenes sal terugdink en sal sê: “Ek sal nooit die woorde van my juffrou of meneer vergeet nie, en ek besef nou wat die waarde daarvan was en dat dit die waarheid is.”

- Olga Channing

DSC02128 Olga Channing is ’n adjunkhoof en Afrikaans-onderwyser aan die Hoërskool Tuine in Pretoria. Sy het al ses skoolhandboeke vir die nuwe kurrikulum geskryf, asook die Afrikaanse jeugroman Roomyskoningin. Ná 24 jaar in die onderwys is sy steeds dol op dié beroep.

Lees ook ons ander onderwysblogs:

Kom deel in die pret!

8 redes waarom onderwys die moeite werd is

En nou sing en dans ons!

Onnies: Ses wenke vir die derde kwartaal

Ouers en onderwysers is vennote, nie teenstanders nie

Vakansietyd, vir onderwysers ook?

Is dit alles die onderwysers se skuld?

Styg uit bo gemiddeld wees!

Onderwysers – en hoofde – is ook maar net mens