“KEAGAN is die klas se grapmaker,” is hoe Anele die jongste lid van die MySchool Dream School-spannetjie opsom.

En dit is hy beslis. In die loop van die program het ek om verskillende redes sagte plekkies vir die meeste (oukei, almal) van die kinders ontwikkel: Monique weens haar tawwe kwesbaarheid, Zama weens haar lieftalligheid, Simphiwe wees sy vasberadenheid. Maar Keagan het hom byna onmiddellik by my hart ingewurm.

Miskien is dit omdat ek maklik by hom aansluiting vind. Hy kom van die Oos-Rand in Johannesburg, ek het grootgeword aan die Wes-Rand. Hoewel hierdie twee uithoeke van Johannesburg kastig met mekaar meeding, is ons meer dieselfde as wat ons wil toegee – en is ons verenig in ons hekel aan enigiets uit die deftige noorde. Of miskien was dit omdat ons sosiale agtergrond ooreenstem, of dalk omdat ons albei verslaaf is aan die selfoonspeletjie Angry Birds.

Maar dit kan ook wees omdat ek ’n bietjie van myself as ’n hoërskoolkind in hom sien. “Waarom dink jy jy tree so op?” het Esta, die sielkundige, hom in een haar sessies gevra. “Sodat ek maats kan maak,” het hy uiteindelik erken.

Hy het dit uitstekend gedoen in Esta se pottebakkersklas, een van sy eerste lesse in MySchool Dream School. Die sielkundige het die studente gevra om twee diere uit klei te vorm – een wat hulle dink die meeste soos hulle is, en die ander een soos wie hulle wil wees (lees meer hieroor in my blog oor episode 2). Keagan het ’n waterskilpad en ’n verkleurmannetjie geprakseer.

“Wat kan ’n waterskilpad doen om ’n verkleurmannetjie te word?” wou Elsa ernstig weet. Sy het duidelik ’n diep insig van hom verwag, maar Keagan het net geantwoord: “Vinniger loop.” Die klas kon hul lag nie hou nie.

Op hoërskool het ek dikwels dieselfde gedoen. Ek was net so onseker weens my bril en slegte vel as wat Keagan oor sy lengte is, en ek het gou agtergekom dis baie makliker om vriende te maak as jy jou klasmaats kan laat lag. Ongelukkig was dit dikwels ten koste van ander mense, maar ten minste het dit die aandag van my af weggeneem.

Anders as Keagan was ek (tot niemand se verbasing nie) ’n bietjie van ’n bleeksiel. As die onnie my dus berispe het omdat ek die gek skeer, het ek verskriklik gevoel, my kop laat sak en aan die werk gespring.

Keagan is, soos ons weet, heeltemal anders. Die onderwysers se vermanings is vir hom soos water op ’n eend se rug.

Maar in die loop van die laaste klompie episodes het ek agtergekom hoe dié situasie stadig maar seker aan die verander is. Ja, hy vang steeds die meeste van die tyd lawwighede agter in die klas aan, maar elke af en toe sien ek skielik hoe hy met gespanne aandag na die onderwyser luister, of hoe hy kop onderstebo, lippe op mekaar geklem, in diepe konsentrasie op sy iPad werk (kom ons hoop maar hy was nie net besig om Angry Birds te speel nie).

Hy het aan Esta erken hy weet dat sy manewales end moet kry. “Ek wil dit eintlik verander,” het hy in ’n sessie met haar gesê. “Dit is besig om my skoolwerk te beïnvloed.”

Ek hoop hy kry dit reg. Veral omdat, toe Keagan my verpes het (soos hy blykbaar graag doen) oor my ouderdom – 23 – en of hy my telefoonnommer mag kry – nee – ek geantwoord het hy kan my maar opsoek as hy 25 word.

Hy het heeltemal tevrede met dié reëling gelyk.

- Kirstin Buick

Huisgenoot se Kirstin Buick was op die stel van Dream School en kon op ’n afstand kyk na alles wat aangaan. Lees haar weeklikse blogs om eksklusiewe agter-die-skerms-stories te hoor!

Kyk MySchool Dream School elke Sondag om 17:00 op M-Net, M-Net HD, Mzanzi Magic en M-Net Series.

Kry hier nog inligting: www.dreamschool.co.za