Dis nie nodig om statistieke aan te haal nie: Almal weet verslawing aan alkohol en allerlei dwelms – insluitend voorskrifmedisyne – kom skrikwekkend algemeen voor.

Maar wat maak jy wanneer jy besef iemand na aan jou – dalk jou kind – is verslaaf, of wanneer jy eindelik toegee dat jy sélf aan drank of dwelms verslaaf geraak het?

Die eerste stap is om uit te vind presies waarmee jy te doen het.

Kennis is mag en sonder betroubare inligting gaan jy nie ver kom nie.

Die Einde van Verslawing vul ’n gaping wat al lank in die Afrikaanse boekemark bestaan.

Dit is ’n omvattende gids – spesiaal geskryf vir Suid-Afrikaners – oor hoe om verslawing te oorwin.

Daar word gekyk na die verskillende soorte dwelms, hoekom mense verslaaf raak en hoe dié dwelms werk. En natuurlik: hoe om verslawing te oorkom.

Daar is ook hoofstukke met raad aan verslaafdes, families van verslaafdes en verskaffers van mediese dienste.

’n Volledige bronnelys en kontaknommers is ingesluit.

Die nodigheid van ’n boek soos hierdie word uitstekend deur die skrywer self uiteengesit: “Die beskikbaarstelling van hierdie kennis sal hopelik praktiese bystand bied aan diegene wat dwelms en alkohol misbruik, sowel as aan hul naasbestaandes en die professionele gesondheidswerkers wat in die veld werk.

"Ek hoop dat hierdie inligting mense wat deur verslawing geraak word, sal bemagtig om hul weg tot herstel te vind.”

Die boek maak ’n ingewikkelde kwessie verstaanbaar.

Baie mense gaan nog wonder hoe hulle hiersonder oor die weg sou kom.