Ons koninklike blogger ­was nog altyd ’n vurige prinses Diana-bewonderaar. Sy het dus met gemengde gevoelens ’n spesiale voorskou van die omstrede fliek Diana bygewoon . . .

EK HET die verfilming van die fliek Diana met belangstelling dopgehou. Gewéét dat ek die fliek sou gaan kyk, ongeag wie wat daaroor sou sê. En toe het ek. Met ’n swaar hart die teater binnegestap en amper asemloos vir die openingstonele gewag. Hier móés ek deur – en nou, ’n week se getob later, kan ek steeds nie met sekerheid sê of Diana ’n moet-sien of ’n vermy-liefs is nie. Die Naomi-Watts-probleem

Dit is veral die skote van Naomi Watts (as Diana) van agter af van my gevang het. Met ’n pruik en die herkenbare Diana-klerestyl wou ek amper glo dit kán Diana wees. Amper. Maar by amper bly dit.

Diana het ’n innerlike sprankel gehad wat Watts nêrens kon vasvang nie. Al het sy videomateriaal oor Diana bestudeer, maniërismes aangeleer, ’n pruik gedra en nes Diana swaar omlynde grimering gedra, kon sy steeds nie onder die vel van die karakter inkruip nie.

[caption id="attachment_54368" align="alignnone" width="600"]Diana (links) en die aktrise Naomi Watts as Diana (regs) Diana (links) en die aktrise Naomi Watts as Diana (regs)[/caption]

Daar was oomblikke in die fliek dat ek gewens het Nicole Kidman of selfs Charlize Theron kon die rol van Diana oorneem – enigiets om weg te kom van die oppervlakkige, eendimensionele uitbeelding. Kidman sou vlees en bloed in die karakter kon blaas, iets wat Watts om die dood nie kan regkry nie. Watts het dit al self gesê: Sy trek nie op Diana nie en het nie dieselfde lengte nie, maar dis helaas nie die enigste rede hoekom haar vertolking so ’n miserabele teleurstelling is nie. Die karakter Diana bly so eendimensioneel soos ’n papierpop met al die regte uitrustings. Dan is sy paranoïes. Dan in ekstase. Dan in trane. Dan verlief. Kompleet soos ’n Mills & Boons-heldin! Diana movie Die feite-probleem Die probleem lê ook by die draaiboek, wat vry met feite omgaan. Kyk, elke vurige Diana-aanhanger ken vandag, 17 jaar ná haar dood, sekere feite oor haar lewe nog baie goed. Jy was immers ’n hoërskoolkind toe sy voor die kansel gestaan het en het as’t ware saam met haar grootgeword. Daarom weet jy ook: om Diana se verhouding met die hartchirurg Hasnat Khan in isolasie te sien (en nooit die ander name soos die rugbyster Will Carling, die kavallerie-offisier James Hewitt of die kunshandelaar Oliver Hoare te noem nie), is ’n fout. Om in Diana die impak van Charles af te wentel tot die berugte sinnetjie “daar was drie van ons in die huwelik” het my net die kop laat skud. Albei het skuld gehad aan die verbrokkeling van hul huwelik en albei het oor die heining geloer. Hasnat Khan: wat is waar en wat nie?

[caption id="attachment_54370" align="alignnone" width="600"]Khan kort na Diana se dood (links, foto: Pan Media), en Naveen Andrews as Khan (regs). Khan kort na Diana se dood (links, foto: Pan Media), en Naveen Andrews as Khan (regs).[/caption]

In die laaste twee jaar van haar lewe waarin die fliek afspeel, was Diana volgens boesemvriende op haar gelukkigste. Dit was of sy begin vrede maak het met die spoke van haar verlede en selfs sy en Charles was vir die eerste keer in jare gemaklik in mekaar se geselskap.

Haar verhouding met die Spencers was egter vol krake. Sy en haar jonger broer het uitgeval omdat sy in ’n kothuis op sy landgoed Althorp wou gaan nesskop het, en hy nie kans gesien het vir die geweldige sekuriteitskoste verbonde aan haar intrek nie. Sy en haar ma het tot met Diana se dood nie met mekaar gepraat nie omdat ook Diana se ma nie gelukkig was dat Diana met ’n Moslem ’n verhouding gehad het nie.

Khan was en is steeds publisiteitsku. Oor die fliek het hy gesê net die kort voorskou het vir hom gewys die uitbeelding van hul verhouding op die silwerdoek is versin. Maar dit is juis omdat ons so min van Khan weet dat sy karakter in Diana dalk die oortuigendste is. Met geen “werklike” kennis om hom teen te meet nie, kom Khan in die fliek oor as werklik lief vir Diana, die mens, min gepla deur haar prinsesskap, maar ook hardkoppig genoeg om die pas van hul verhouding voor te skryf.

zz160913diana3-6068270

Bygesê, die silwerdoek-Khan word gespeel deur die mooie Naveen Andrews (oftewel Sayid van Lost), terwyl die regte Khan sal nie juis koppe laat draai nie.

Khan wou nie die gouekoutjie-bestaan van Diana voer nie. Hulle het daarvan gedroom om eendag in Pakistan ’n harthospitaal vir behoeftiges op te rig. Soos Khan gesê het, sonder haar vorder dié planne stadig. As sy nog geleef het . . .

Hy het ook destyds ’n welige snor gehad, wat vir die doeleindes van fliek in die garderobe gelos is. Ontwerpersklere was ook nie sy ding nie en sy blyplek was, wel, nie naby ’n treinspoor nie. Diana het inderdaad sy woonstel aan die kant gaan maak en daar huis-huis gespeel – vir haar was dit natuurlik ’n ervaring om soos ’n gewone mens in ’n ry te staan, iets waaraan sy ook haar twee seuns kleintyd al blootgestel het.

diana & hasnat

Dan is daar al die feitefoute in Diana wat pla… Dit was Paul Burrell, Diana se lyfkneg, wat Khan buite die hospitaal gaan oplaai en dan netjies onder ’n kombers versteek by die Kensington-paleis ingesmokkel het, nie Diana self nie. Sy het ook, toe haar verhouding met Hasnat op dreef gekom het, haar opvallende Audi verruil vir ’n minder opmerklike BMW.

In die rolprent – alles ter wille van die dramatiese effek – het Diana vier selfone. Dit was omdat sy geweet het haar oproepe word soms afgeluister en sodat sy mense wat sy om die een of ander rede nie meer in haar binnekring wou hê nie, wou uitskud. So het Khan haar daardie naweek van haar dood in Parys probeer bel, maar hy het nie  haar nuutste nommer gehad nie. Diana se selfoon was in haar klein palmtas wat in die wrak van die verfrommelde Mercedes gevind is, en nie op die marmerblad van ’n kamer in die Ritz-hotel soos die fliek beweer nie. Die toneeltjie buite die Kensington-paleis waar Khan in trane blomme vir Diana gaan neerlê, is hoogs onwaarskynlik. Hy was wel in die Westminster-abdy vir haar begrafnisdiens, met sy hartseer agter ’n groot swart bril verberg. Moet jy gaan kyk? As jy ’n tikkie van die Diana-magic wil herleef en die fliek as ’n fiktiewe weergawe van haar lewe wil beskou, gaan kyk die fliek gerus. Maar as jy moeilik aan die feitefoute in die fliek gaan kou, vermy dit.

  • Diana begin 18 Oktober in SA draai. Dis gegrond op Kate Snell se boek Diana, Her Last Love. Die regisseur is Oliver Hirschbiegel.

- Arlene Prinsloo

Arlene foto Arlene Prinsloo is die digitale nasionale inhoudskoördineerder van Digitale Nuus, Media24 Nuus. Sy is ook Huisgenoot se koninklike blogger.