Ons dink: 5/5

Dit is byna ongehoord dat ons bederf word met die instrumentale klankbaan van ’n Suid-Afrikaanse fliek, om nie eens te praat van ’n Afrikaanse fliek nie. En dié klankbaan is wêreldklas. Nadat die doyenne van Afrikaanse rolprente, Katinka Heyns, se Die Wonderwerker op die kringloop gewys is, is die ewe betowerende klankbaan einde verlede jaar uitgereik.

Moenie lirieke verwag nie, net musiek uit die pen van Ben Ludik waarmee hy die lewe van die skrywer en digter Eugène Marais meesterlik belig. Die gebruik van ’n trekklavier en mondfluitjie saam met ’n klassieke orkes (die bekroonde Universiteit Stellenbosch Camerata) maak die luisterervaring uniek. Hierdie CD is ’n skat. Dit sal jou, nes Marais in die fliek sê, “mesmeraais”.

– CHRISTIAAN BOONZAIER