Ons dink: 4/5

Adam is ’n groep met woema! Die drie lede, Reynardt Hugo, Joe Foster en Hugo Ludik, is elk uit eie reg ’n talentvolle liedjieskrywer, sanger en musikant. Geen wonder hulle het Suid-Afrika aan die sing en dans nie.

Hul tweede album, Vir Jou Gemaak, bevat 14 oorspronklike liedjies uit die penne van die drie manne. Daar is ’n lekker variasie op die album en ’n mens kan jouself nie help nie: Op liedjies soos Ek Is Jammer, Engele Sing en Hartklop wil jy sommer jou hart oorgee aan die Adam-manne. Daar is ook enkele snitte wat jou lus maak vir die somer: Kasteel, Pasop en Toe Seermaak Nog Liefde Was.

Hul onkonvensionele lirieke, verslawende melodieë en sterk musikale aanslag maak hierdie album ’n Kersgeskenk vir die hele familie.

– ELISMA ROETS