EEN van die boeke wat ek vanjaar op Exclusive Books se uitverkoping opgeraap het, is Donna Leon se The Jewels of Paradise (uitgegee in 2012).

Jewels Paradise 2

Ek is al lankal ’n groot aanhanger van Leon en sal haar kommissaris Brunetti-boekreeks sterk aanbeveel. Brunetti is ’n polisiespeurder in Venesië, en die verhale draai telkens om ’n moord wat êrens in die stad gepleeg is. Maar Brunetti sal skaars op die moordenaar se spoor wees of hy moet huis toe vir middagete saam met sy vrou – en dan volg ’n breedvoerige beskrywing van die pasta en die artisjokke en die vleis wat in dié en dáái sous geprut is. En natuurlik die wyn waarmee dit helder oordag afgesluk word – dus ’n kruising tussen Sherlock Holmes en ’n Kook en Geniet.

Ek weet dit klink asof dit glad nie kan werk nie, maar lees gerus ’n Brunetti-boek, jy sal verlief raak op dié reeks waarin Venesië as’t ware ’n hoofkarakter is. Trouens, ek het onlangs op google gesien dat kommissaris Brunetti nou selfs sy eie resepteboeke het, Brunetti’s Cookbook en A Taste of Venice.

nog

Maar dié boeke het ek nog nie onder oë gehad nie. ’n Interessantheid oor Leon is dat sy ’n Amerikaner is wat al langer as 30 jaar in Venesië woon, en dat haar boeke in verskeie tale vertaal word – maar nié Italiaans nie. Ek kan my voorstel dat die Italianers dalk ’n mondvol te sê sal hê oor haar siening van die Venesiese kultuur.

The Jewels of Paradise is egter nie ’n boek in die Brunetti-boekreeks nie. Dit is ook nie ’n speurverhaal in die ware sin van die woord nie. Dit vertel die verhaal van die Venesiër en musikoloog Caterina Pellegrini, ’n jong vrou wat die kans aangryp om na haar geliefde geboortestad terug te keer om aan ’n raaiselagtige navorsingsprojek te werk: Ná byna drie eeue is twee kiste vol besittings van ’n Italiaanse barok-musikant genaamd Steffani gevind, en twee mans wat albei daarop aanspraak maak dat hulle erfgename van dié komponis is, vra Pellegrini om die kiste oop te maak en te besluit wie die regmatige erfgenaam is. Pellegrini sit dus ure in die bib en nalees oor dié komponis, wat ook ’n priester en dus kinderloos was. En tussendeur is daar ’n man wat haar woordeloos agtervolg en die hare in jou nek laat regop staan.

Die boek is taamlik stadig, maar het my baie aan AS Byatt se Possession laat dink, waarin ’n jong navorser onverwags in die argief op ’n ou liefdesbrief van sy literêre held afkom en die herkoms daarvan begin navors.

Posession

Maar anders as Byatt se verhaal, wat ’n literêre meesterstuk is en met die gesogte Booker-prys bekroon is, is Leon se boek ligter leesstof vir ’n aandjie onder die duvet. As jy in musiek en biblioteke belangstel, of van Leon se ander boeke gelees het, sal jy dit geniet.

Lees ander blogs deur ons boekvraat:

JK Rowling (oeps!) se eerste speurroman is ’n wenner

Nuwe boeke vir buksies

Oe-la-la . . . vuurwarm leesstof vir koue aande

Leer by die beste. Leer by Jack Reacher

Wat is ’n huis sonder ’n hond?

Op reis deur Florence saam met Inferno

Bloggers en Facebookers sal van dié spanningsverhaal hou