Hollywood put dikwels inspirasie uit topverkoperboeke; dink maar aan die Twilight-reeks, Ender’s Game, The Hunger Games en The Great Gatsby.

Jy dink dalk dis beter om die fliek te kyk as om die boek te lees (twee uur se kykgenot teenoor twee weke se lees!), maar boekwurms weet hoekom dit so belangrik is om eers die boek te lees en dan die fliek te kyk. Rolprentverwerkings bly nie altyd getrou aan die boek nie, en die boek is dikwels baie beter. Ons kyk na van die boeke wat vanjaar silwerdoek toe kom.

The Fault in Our Stars

fault in our stars

Dié liefdesverhaal oor twee skerpsinnige tieners word uit Hazel, ’n kankerlyer, se oogpunt vertel. Sy raak verlief op Gus, ’n voormalige basketbalspeler wat sy been verloor het, nadat hulle by ’n steungroep ontmoet. Shailene Woodley (The Descendants) vertolk die hoofol. As jy lus is vir ’n briljante storie wat jou laat lag, is die boek ’n moet! Hou net ook die snesies byderhand . . .

The Giver

The Giver

Die storie gaan oor die 12-jarige Jonas (Brenton Thwaites) wat in ’n volmaakte wêreld woon. Toe hy gekies word om die bewaker van sy gemeenskap se herinneringe te wees, word hy saam met ’n bejaarde man, The Giver (Jeff Bridges), opgelei. Jonas leer by The Giver oor pyn, oorlog en al die hartseer waarhede van die “regte” wêreld. Hy besef gou sy gemeenskap is ’n klug en kom dan voor moeilike besluite oor sy lewe en toekoms te staan. Meryl Streep speel ook in die fliek, wat verlede jaar in Kaapstad en omstreke geskiet is. Taylor Swift het ’n kameerol daarin.

How to Train Your Dragon 2

how to train dragon

Dié animasiefliek vind vyf jaar ná die eerste een plaas en Hiccup (stemwerk deur Jay Baruchel) en Toothless verken nuwe plekke terwyl hul vriende draakresies geniet. Tydens een van hul reise ontdek hulle ’n geheime ysgrot, honderde wilde drake en die geheimsinnige Dragon Rider. Ander stemme is dié van Djimon Hounsou, Jonah Hill en Ugly Betty se America Ferrera.

Divergent

Divergent

As jy dol was oor The Hunger Games is die kanse goed dat jy ook versot gaan wees op Divergent. Dit speel af in ’n futuristiese Chicago, waar vyf mense op grond van hul persoonlikhede in faksies verdeel is. Beatrice “Tris” Prior ontdek sy is Divergent, wat beteken sy pas nie by enige faksies in nie, en sy ontrafel kort voor lank ’n onheilspellende komplot in haar kwansuis volmaakte wêreld. Shailene Woodley is Tris en Zoë Kravitz is haar beste pel, Christina.

Vampire Academy

vampire academy

As jy van die Twilight- en Vampire Diaries-boeke gehou het, is dié een vir jou! Dit gaan oor Rose Hathaway, ’n halfmens/halfvampier wat leer om ’n lyfwag te wees vir haar beste pel, ’n vredeliewende vampier. Terwyl sy leer hoe om met bose vampiere by St. Vladimir’s Academy af te reken, bevind Rose haar in ’n verbode romanse met haar mentor, Dimitri Belikov. Zoey Deutch van Beautiful Creatures en Sarah Hyland van Modern Family speel in die fliek.

- Lavern de Vries

BRONNE: Imdb; wallstcheatsheet.com