Mattheüs Duiker versorg sy pa wat in hul spoghuis op sterwe lê. Hy dra hom op die hande en dra veral vir hom kos aan, ’n bredie wat vroeër sy pa se gunsteling was, ’n frittata met parmesaan en tamatie, spaghetti bolognese met gekapte pietersielie, roosterbrood met Marmite of wanneer die ou man baie naar is ná nog ’n skoot chemo, ’n glas melk met vanieljegeur-Sustagen.

Mattheüs het op 32 nog nooit ’n werk gehad nie en is trouens pas terug nadat hy ’n paar jaar oorsee rondgeflenter het op sy pa se koste. Hy sit opgeskeep met ’n verterende verslawing aan pornografie, en wanneer hy dit een oggend drie maal weerstaan om een van sy onwettig afgelaaide video’s te kyk, “. . . gaan lê (hy) op sy bed en probeer daar met skreefoë net ’n mens wees, ’n gewone mens met geluk en ’n toekoms, dis al”.

Vir sy toekoms het hy nog geld van sy pa nodig, want hy droom van ’n wegneemkiosk waar hy gesonde kos aan arm mense verkoop: tamatie-en-lamsbredie (die vleis wat lê in ’n kerriemarinade wat lekker ingesuur is met tamarynekstrak), hoenderkerrie met klappermelk en vars koljander, koolpiekel, lensie-dahl. As wolf moet sê hoe laat dit is, is dit dus op een vlak inderdaad etenstyd.

Op ’n ander vlak is dit veel later en miskien reeds te laat: vir die herstel van die pa-seun-verhouding, en veral om die verval van die status quo te keer waar dit nou moontlik raak dat jy een oggend by jou besigheid kom en dis gekaap deur mense uit diep Afrika. Die uiteinde hiervan sou kon uitloop op ’n wêreld soos deur Venter verbeeld in Horrelpoot – wat van Wolf, Wolf ’n soort voorverhaal maak.

In ’n roman van lieflike beskrywing is die skrynendste die manier waarop die siek man, eens ’n vooruitstrewende Mercedes Benz-handelaar en heerser oor sy personeel en gesin, se aftakeling in pynlike detail weergegee word. 

Op soek na ’n beter prys? KLIK op die mier. pricecheck-new

-Elna van der Merwe