Toe die skrywer omtrent ses weke oud was, is sy vir aanneming weggegee. Haar nuwe ma was die streng, Godvresende mev. Winterson, wie se lewensdoel was om ’n soldaat vir Jesus te wees.

In hierdie besonderse memoir word die skrywer se moeilike kinderdae in ’n nywerheidstad in die noorde van Engeland, asook haar pynlike soektog na identiteit en geluk beskryf.

Die titel van die boek kom van die vraag wat mev. Winterson Jeanette as tiener gevra het toe sy haar uit die huis gooi omdat sy ’n “girlfriend” gehad het. Later, toe Jeanette haar seksuele oriëntasie uitspel, veroorsaak dit dat een van mev. W. se spatare bars dat die bloed so spat.

“Ons het pas die plafon laat oordoen,” kla sy.

Nadat Jeanette die huis verlaat, versnel die pas en die jong skrywer se ambivalente reis op soek na haar biologiese ma

lees soos ’n riller. Lesers sal veel hierin kry wat lig werp op die temas in haar bekroonde romans, veral haar outobiografiese Oranges Are Not the Only Fruit.

En as jy soos ek nie voorheen vreeslik erg oor haar boeke was nie, sal jy ná dese van plan verander. Dié dapper en snaakse weergawe van ’n jong meisie se soektog na liefde word sterk aanbeveel.

Volg Huisgenoot op Twitter.