As jy altyd sê jy is vet en onfiks omdat jy nie weet hoe om te oefen nie of nie ’n afrigter kan bekostig nie, sal jy nou ’n ander verskoning moet uitdink! Die titel van dié nuwe boek sê mos alles.

Hoewel Eddie Lambert van die veronderstelling uitgaan dat jy in die gim gaan oefen en dus al die apparaat tot jou beskikking het, sou ’n mens die meeste van sy oefeninge ook suksesvol tuis kon doen.

Eddie is ’n tweekampatleet met ’n graad in sportwetenskap en is ’n persoonlike afrigter in Tygervallei, Bellville. Onder sy kliënte tel van atlete tot senior burgers.

Hy het 26 volledige programme opgestel en die oefeninge hierin so gegradeer: maklik, matig, moeilik, gevorderd, baie gevorderd. Hy dui ook aan op watter spiere die bepaalde oefening gemik is.

Die lekkerste is dat die oefeninge met kleurfoto’s verduidelik word. Daar is ook oefenprogramme wat op swanger vroue gemik is. Al wat jy nou nog kort, is deursettingsvermoë en die bereidwilligheid om te sweet.

Wees jou eie gim-instrukteur deur Eddie Lambert

Metz Press

Ons dink: 4/5 

Volg Huisgenoot op Twitter.