Dit begin nou wel met “Eendag, lank lank gelede”, maar hierdie sprokie klink soos iets wat Nataniël sou skryf: Wolf roep sy ou, kriminele lewe vaarwel toe en gaan soek ’n nuwe sprokie.

Maar ongelukkig loop sy reputasie hom vooruit.

Soos die wolf vir hom ’n nuwe plekkie soek tussen Aspoestertjie en Jan en die Boontjierank, versnel die pas tot op ’n punt dat die leser ’n speletjie daarvan kan maak om al die sprokies te herken.

Voor jy weer sien, stamp Hansie en Grietjie die prins in die oond en raak die Geste­welde Kat met ’n spinwiel deurmekaar.

’n Avontuurlustige leser moet sy sprokies ken om te raai hoe dinge herstel kan word . . .

Moenie verbaas wees as die kleintjies in die vervolg nie meer tevrede is met die tradisionele “en hulle het lank en gelukkig saamgelewe“ nie!

Hierdie on-sprokie maak die jong leser bewus van sy eie leerervaring, dat hy as die leser dinge mag bevraagteken.

Stereotipes word nie aanvaar nie: Selfs die illustrasies is in ’n  komiese abstrakte styl met ’n volwasse palet; moenie die Goue Fee in pienk verwag nie!

Die illustrasies (deur Melanie Williamson) is ook so ryk, dit kan dalk ’n rukkie kos om die bladsy te blaai.

Daar is geen tradisionele skeiding tussen teks en illustrasie nie; om die waarheid te sê, die twee speel saam. Dit vereis ’n jong leser met humorsin en beloon hom deur nooit sy intelligensie te onderskat nie.

Jaco Jacobs het ’n heerlike vertaling gedoen en eg Afrikaanse terme soos “brekfis” en “kry jou ry!” gee die verhaal verder houding.

Dis dalk net die regte boek vir die kind wat die hele tyd vra: “Hoekom?”

Volg Huisgenoot op Twitter.