“Nadat die engel weg is, het Maria mooi oor sy boodskap nagedink. Sy was baie bly oor die goeie nuus, maar sy het nie regtig verstaan wat die engel se boodskap beteken het nie. Toe besluit sy om vir Elisabet te gaan kuier en vir haar te vertel wat die engel gesê het.”

Dit is die trant waarin hierdie Kinderbybel geskryf is – in eenvoudige taal sodat ook voorskoolse kinders dit sal verstaan. Wat ook aantreklik is, is dat die volkleur-illustrasies so kindervriendelik, en eintlik outyds en eenvoudig, is.

Johan en Nina Smit, bekende skrywers van geestelike boeke, het 100 van die mooiste verhale uit die Ou Testament en 100 uit die Nuwe Testament hier oorvertel.

Die stories is baie kort sodat daar net genoeg feite aan ’n kleintjie oorgedra word voor sy oë kan toeval van vaakheid of verveling. So word die basis gelê vir ’n latere grondige kennis van die Bybel.

Dis ’n puik geskenk wat ouma en oupa vir die kleinkinders kan gee.

DIE KLASSIEKE KINDERBYBEL-STORIEBOEK VERTEL DEUR DEUR JOHAN EN NINA SMIT

CUM

Ons dink: 4/5