Tony Webster is ’n man in sy 60’s en baie in sy skik met sy gewoonheid: Hy het ’n goeie loopbaan en ’n vriendskaplike egskeiding agter die rug en beskou homself as gelukkig dat hy die meeste van die lewe se stampe kon vermy.

Maar sy gemaklike bestaan stort in duie toe die ma van ’n meisie met wie hy op universiteit uitgegaan het, aan hom iets bemaak in haar testament. Dinge raak nog morsiger toe die eks, Veronica, weier om van die voorwerp afstand te doen.

Tony kan nie agterkom waarom sy so bitter is en so min van hom hou nie. “Jy verstaan nie. En jy het ook nooit,” is die beskuldiging wat sy hom meer as een maal toeslinger.

Hy wil agter die kap van die byl kom en begin in die verlede grawe. Hy kom agter sy geheue is onbetroubaar en kontak mense om die feite te help invul. Hierdie einste mense begin hom manipuleer – of so voel hy.

Barnes lewer ’n meesleurende meditasie oor onthou in dié wonderlik geskrewe novelle wat ’n waardige wenner van vanjaar se Man Booker-prys is.

THE SENSE OF AN ENDING DEUR JULIAN BARNES

Jonathan Cape

Ons dink: 4/5

Volg Huisgenoot op Twitter.