Ons dink: 3/5

Gegewe hul kardinale rol en die gewelddadige mense oor wie se lot hulle moet oordeel, is dit merkwaardig dat net vier dienende Amerikaanse regters al ooit vermoor is. Dit word ons wys uit die eerste bladsye van The Racketeer, John Grisham se nuwe riller. Dan word een pront vermoor.

Die intrige draai om die speurtog na regter Raymond Fawcett se moordenaar. Dít en die merkwaardige wraak van ene Malcolm Bannister, ’n swart regter wat 10 jaar uitdien vir afpersing – ’n misdaad wat hy volhou hy nie gepleeg het nie. Dit begin met ’n alte bekende Grisham-toneel: ’n man in regsmoeilikheid. Bannister slyp sy vaardighede as tronkprokureur in Maryland en het nie meer opsies om sy eie vonnis te laat herroep nie. Maar met die moord op die regter wissel die storie van rat.

Bannister beweer hy ken die moordenaar en weet wat dié se motief is. Hy sê hy is bereid om die inligting te verruil vir vryheid, ’n beloning en ’n chirurgies veranderde gesig. Die federale polisie gee toe en die volgende oomblik is ons man in Miami – as Max Baldwin. Maar dis net die begin van ’n verregaande, noukeurige wraakplan wat die federale beamptes oor Amerika heen volg terwyl Max ’n flambojante lewe skep as direkteur van ’n rolprentonderneming. Dit is nie die gewone prekerige Grisham-stof nie – en daarom heel genotvol.

– ELMARI RAUTENBACH

Op soek na ‘n beter prys? KLIK op die mier.