Daar is sommige skrywers van wie ek so baie hou dat ek hul boeke koop sodra dit op die rakke verskyn. Rosie Thomas is een van hulle en haar jongste stel nie teleur nie.

Sy teken ’n pragtige en lewendige prentjie van Indië en by tye is dit so hartroerend dat ek so ’n effense nattigheid in die oë gekry het.

Hier is twee stories: Nerys, wat 70 jaar tevore die vrou van ’n Walliese sendeling in Indië was, en haar kleindogter, Mair, wat vasbeslote is om agter die storie te kom van ’n sjaal wat sy op haar ouma se solder gekry het.

Die rykheid van die beskrywings laat ’n mens wens jy kon op ’n huisboot in Kasjmir woon. En al die kleurryke mense wat Mair op haar reis ontmoet, plaaslik én internasionaal, laat pas die legkaart van die sjaal se oorsprong stuk-stuk inmekaar.

Dis die ideale slaaptydboek. Die storie van liefde en moed strek oor generasies tussen die Walliese landskap en die Himalajas en Kasjmir, en sal jou enduit meevoer.

THE KASHMIR SHAWL DEUR ROSIE THOMAS

HarperCollins

Ons dink: 4/5

Volg Huisgenoot op Twitter.