Dis met groot afwagting dat ’n mens dié boek oopmaak, want dis die Vroue-Landbou-unie s’n en van hulle verwag ’n mens staatmaker-resepte, die soort wat weer en weer gemaak en graag gedeel word.

Dit is dan ook so: Hier is die tradisioneles soos wildsvleis-bredie, groenboontjiebredie, tong met mosterdsous en ’n regte, egte boerekerrie met so ’n soetigheidjie van appelkooskonfyt ingewerk.

“Regte, egte” pas by die meeste van die resepte; hier is nie volksvreemde bestanddele wat jy hoog en laag moet gaan soek of dures wat jou sak ruk nie. Dis kos wat jy ken, op ’n onfeilbaar lekker manier berei.

Vir so ’n ietsie anders is daar byderwetse geregte soos tro­piese garnale, lensie-en-kaaspastei en Portugese pampoen­koekies.

Die hoofstuk oor soetgoed en gebak is opgedeel in kleinkoekies, koeke, yskaskoeke en soet terte, sout terte en southappies, brood en beskuit, en muffins, skons en plaatkoekies – als tot die geliefde Marmite-tertjies.

Ons kan dankbaar wees die VLU het besluit om hul 80ste verjaardag met ’n resepteboek te vier!

Volg Huisgenoot op Twitter.

Spogresepte van die VLU saamgestel deur Heleen Meyer

Lapa-uitgewers

Ons dink: 3/5