Met die byna 40 boeke wat Helene de Kock in die afgelope meer as 30 jaar geskryf het, het sy, soos die cliché lui, “diep in lesers se harte gekruip”. En soos die meeste clichés is dit die waarheid. Miskien is Helene se geheim dat sy nie haar lesers onderskat deur te aanvaar die liefdesverhale moet noodwendig in die Mills & Boon-styl wees nie.

In Somersneeu, haar nuwe roman, gaan dit oor die struikelblokke wat in die pad van die liefde kom. En moenie ’n soetsappige storie verwag nie – Rouke, sy boesemvriende, Robert en Brett, en die vroue in hul lewe, Karina en Julia, word so goed beskryf, hulle kon jou familie gewees het.

Hulle pak die lewe ná skool vol afwagting aan, maar die grootmenspad is nooit sonder hobbels nie, en toe een van die vriende ’n ander se geliefde “steel”, lyk dit asof daar een hart is wat werklik nooit weer heel gaan word nie.

Boek: Somersneeu

Skrywer: Helene de Kock

Uitgewer: Human & Rousseau

Prys: R175

Wat ons dink: 5/5