Nou die dag beland ’n debuutroman op my lessenaar. Ek begin daardie aand al daaraan lees en vroeg die volgende oggend pas ek ook nog ’n paar blaaie in.

Op kantoor gekom, bel ek die uitgewer: “Gee gou vir my dié Jacques Pretorius se nommer. Ek wil ’n onderhoud met hom voer oor So Lig Soos Klip. En e-pos solank vir my ’n foto van hom.”

Nee, dit sal nie kan nie, want hy is twee dae tevore oorlede. Hy het op 38 ’n hartaanval gekry en is dood sonder dat hy sy boek in die hand gehou het.

“Jacques het daarvan gedroom dat hy eendag ’n boek in elke genre sou skryf – daar was niks wat hom meer gestimuleer het as ’n uitdaging nie!” sê sy vrou, Cristelle Snyman, wat vyf maande ná hul troue besig is om sy begrafnis te reël.

Sy noem hom buiten ’n skrywer, digter, filosoof, musikant en skilder ook ’n inligtingsvraat met ’n verstommende algemene kennis, selfs oor kwantumfisika.

“Hy was op sy gelukkigste wanneer hy toestelle uitmekaar kon haal en sy eie uitvindsels daarmee bou; kon gesigsprodukte prakseer met aalwyne uit die tuin of kon eksperimente doen met sy handgeboude ‘breingolfmeter’.”

Sy hare, het hy beweer, het hy verloor in ’n fratsongeluk wat ’n broodrooster en ’n kat behels het.

So Lig Soos Klip is die storie van ’n jong polisieman wat in die tyd van Casspirs en brandende townships leef. Dit word vervleg met grepe uit sy grootwordjare en die emosionele afknouery van sy ouers, asook deur tere en minder tere liefdestonele.

“Jacques het twee jaar lank self diensplig in die SAP gedoen en die idee van So Lig Soos Klip en van die gebeure in die boek is gegrond op van sy eie ervarings tydens daardie tyd,” sê Cristelle.

Voor in die boek bedank Jacques sy redakteur, Francois Smith, wat hom met “bomenslike geduld” gelei het.

“Dit is ’n kragtige en hoogs ontstellende boek,” sê Francois. “Dit is ironies dat die tragiese verhaal van die boek nou saamloop met die tragiese verloop van Jacques se lewe.”

Op sy Google-profiel skryf hy hy word toenemend bewus van dié waarheid: “Die dood is ons almal se lot.” Wat hy nou egter nooit sal weet nie, is hoe dit voel om jou eerste boek in jou hand vas te hou.

Volg Huisgenoot op Twitter.