Hierdie veldgids vir Suider-Afrikaanse soogdiere is uiters nuttig en gebruikersvriendelik. Wat jy hieruit kry, hang alles af van wat jy daarvan vra, aangesien dit geskik is vir nuuskierige agies én ernstige wildwaarnemers.

Vir die amateur is daar uiters goeie sketse van die diere (waarvoor die vorige Smithers-uitgawes bekend geword het), asook goeie beskrywings van gewoontes waaraan jy hulle kan uitken.

Het jy byvoorbeeld geweet dat jy swartstertboomrotte (Thallomys nigricauda) se tandmerke op die bas en saadpeule sal sien van die akasias waarin hulle nes maak?

Vir diegene met ’n ernstige belangstelling is alles ook aangeteken van die diere se verspreiding, eetgewoontes en gedrag tot hul chromosoomgetal, bewaringstatus en lewensiklus.

Alle spesiebeskrywings begin met die Engelse volksnaam, gevolg deur die wetenskaplike naam en dan ook die Afrikaanse naam.

Die volks- en die wetenskaplike name verskyn in een van die twee indekse aan die einde van die gids, en behoort ’n goeie idee te gee van hoe jy na ’n ietermagog moet verwys in enige geselskap. Dis nou ’n ground pangolin tussen die Engelse en Manis temminckii onder wetenskaplikes.

En as dit nog nie genoeg is nie, is daar ’n voorgestelde lys van bykomende leesstof.