“Die eerste soen is ’n aarselende streling: Sy lippe is sag en warm, soos sy geweet het hulle sou wees . . .”

As sulke woorde agterop ’n boek jou nie lus maak (vir lees, ten minste) nie, is jy ’n suur ou pruim wat lankal ophou glo het in romanse.

Toemaar, darem nie regtig nie – dalk glo jy net nie meer in die pienk spookasemrigheid van die liefde nie, maar dis presies waaroor boeke in die romanse-kategorie gaan.

Dit voer ’n mens soos ’n salige dagdroom weg na die onmoontlike waar alle mans sterk en hul soene sag is en waar alle vroue beeldskoon, slim en, ja, maer, is.

Schalkie van Wyk, ’n Johannesburgse skrywer, is ’n veteraan van heerlike liefdesverhale en Keur 8 is ’n heruitgawe van Eiland van Geheime, Reënboog van jou Hart en Bittersoet Verlange.

Dis die stories van Marné wat ’n kinderoppasser word op Flaminke-eiland, Lanja van Niekerk wat Johannesburg toe trek ná ’n groot liefdesteleurstelling en Leandri Dreyer, skatryk, maar diep ongelukkig.

Lekkerrr!

Keur 8 deur Schalkie van Wyk

Jasmyn-Uitgewers, R195

Ons dink: 3/5