Die wind huil mistroostig om die plaashuis se hoeke. Annie, die inwonende verpleegster, kyk bekommerd hoe die boer wegry. Want dit lyk of sy vrou se tyd hier is om te kraam. Sou hy dan so min belangstel? Sy weet reeds hy wil nie ’n dogtertjie hê nie.

Wanneer die oomblik aanbreek, is dit wel ’n seun – maar met gebreklike voetjies. En sy ma sterf pas nadat sy Annie laat belowe het om die kind te neem omdat “sy” nie vir hom so lief sal wees nie.

Wie “sy” is, weet die jong verpleegster nie. So begin Die Huis van Makir, die eerste van drie verhale in Sarah du Pisanie se Omnibus 3.

Daar is nog twee heerlike verhale uit die pen van hierdie gewilde romanse­skrywer. Die Rooi Duiwel van Rotskloof is die storie van Ansie en haar verloofde wat haar broer op ’n sendingstasie moet gaan bystaan. Hy is ’n wewenaar en het twee kleuters.

In Vir Twee Koppies Meel moet Anke, ‘n weeskind, met ’n Duitse soldaat trou. Haar droom is om uit Duitsland te ontsnap na die sonnige Suidwes, maar die werklikheid is nie wat sy verwag het nie . . .

Omnibus 3 deur Sarah du Pisanie

Jasmyn, R195

Ons dink: 4/5