Vandag het e-posse pleks van briewe ons belangrikste manier van korrespondeer geword, maar in die veertigerjare – die tyd van die Tweede Wêreldoorlog waarin hierdie hartverskeurende roman afspeel – het sake van lewe en dood in koeverte geskuil.

Die storie gaan nie net oor die posmeesteres van die titel nie – dit gaan oor drie vroue en hoe hulle deur ’n brief aan mekaar verbind is.

Iris James, die posmeesteres, en Emma Fitch woon al twee in Franklin, Massachusetts. Die verslaggewer Frankie Bard is in Londen waar sy daagliks in radiobulletins aan Amerikaners vertel watter chaos die Duitse lugaanvalle in gewone lewens veroorsaak.

Toe Emma se man Londen toe gaan om as dokter te gaan werk onder gewonde soldate, begin gebeur dinge wat die drie vroue met mekaar verbind.

Teen die einde besef jy die impak as ’n boodskap nie sy bestemming bereik nie.

The Postmistress deur Sarah Blake

Viking, R200

Ons dink: 3/5