’n Beker stomende sop en ’n sny lekker brood – dit beteken mos dis winter. En daarby is sop ’n skelm manier om jou kinders ’n klomp gesonde bestanddele te voer.

Of wees so effens dekadent en rond jou sop af met room, gegeurde botter of bros broodblokkkies.

Dié resepteboekie is waarlik goeie waarde vir geld met sy idees vir nuwe geurkombinasies en vertroude resepte vir ou gunstelinge.

In die afdeling Speedy Soups kry jy vinnige resepte soos ertjie-blaarslaai-en-suurlemoensop en hoender-en-klappersop.

Vir die somer is daar ’n verskeidenheid van koel soppe, soos die een met vars aspersies, terwyl jy in die winterafdeling kan kies uit tradisionele soppe of ietsie anders, soos die groentesop met spekpoffertjies.

Bederf jou gaste met ’n spogsop van krap of ’n hoendersop met skilferdeeg in die hoofstuk Something Special.

Die boek eindig met ’n verskeidenheid van internasionale gunstelinge soos Franse uiesop en gesonde Viëtnamese biefsop.

Die kos is alles baie mooi afgeneem en die resepte is maklik uiteengesit. Jy sal nie gou weer die supermark se sop wil koop nie.

200 Super Soups deur Sara Lewis

Hamlyn, R95

Ons dink: 3/5

Volg Huisgenoot op Twitter.