Vir baie was Afrika se geheime onweerstaanbaar, ook vir skrywers soos Joseph Conrad, Lawrence Greene en Sangiro.

Onvermydelik is Afrika toe ook betreklik onlangs as eksotiese agtergrond ontdek deur ons skrywers van Afrikaanse spanningsver­hale, onder wie Piet van Rooyen met sy belangstelling in die volkekunde en politiek.

Rodriguez is ’n Suid-Afrikaanse geheime agent in Mosambiek met die opdrag om ’n ogie te hou oor die aktiwiteite van Renamo. (Renamo was die politieke teenstander van die kommunistiese Frelimo, aan wie die Portugese die bewind van Mosambiek in 1974 oorhandig het.)

Rodriguez, die agentenaam van Skerf Malan, kom in 1990 by Massala aan, die basis van Renamo naby die mond van die Zambezi. Die “houtkoper” Rodriguez moet sy hanteerders (heel gepas “Die Sirkus” genoem) oor Renamo inlig.

Rodriguez is ’n vreemde karakter. Vaagweg besiel deur helde uit die Boereoorlog, glo hy dat hy volk en vaderland dien met sy missie. Daar is egter min waarmee hy hom kan besig hou in die bos.

’n Jaar lank lê hy laag, speel kaart, hou makoue aan, deel pille uit aan siekes en gee raad, maar kry nooit met ’n vyand te doen waarmee hy moet afreken nie. ’n Lang staptog na ’n myn eindig met die doodskiet van vier Russe, maar hy bly onbetrokke.

Geheime agente behoort nie besield te wees deur patriotisme of lojaal te voel teenoor ’n regering nie. Boonop deug moraliteit so min soos ’n rol toiletpapier tussen die wapens van ’n geheime agent. Tereg sien Rodriguez homself, bra pateties, as ’n nar tussen ander narre in ’n sirkus.

Dalk wou Van Rooyen ’n soort satire skryf van die operasies van Suid-Afrika se Nasionale Intelligensiediens in die dae van Niel Barnard; wou hy by monde van Rodriguez die verwarring in die gemoed van ons geheime agente verwoord.

Al is Rodriquez nie juis ’n beminlike karakter nie, sal Van Rooyen wel lesers vind wat die wedervaringe van die geheime agent in Mosambiek met belangstelling sal volg.

Volg Huisgenoot op Twitter.