Het jou ma al vir jou gesê jy moet nou onmiddellik die boek neersit om te gaan slaap, dan sit jy dit net neer tot sy uit die kamer is en skakel vinnig weer die lig aan om verder te lees? Presies. Permanente Ink trek jou soos ’n magneet!

Hier’s bloed, moordenaars, moord, liefde en die Romeo-en-Juliet-moordenaar is besig. Hy/sy dink dit is die beste manier om iemand te keer om seer te kry as gevolg van die liefde.

Die hoofkarakters is Amir, Werner, Zelda en Robert. Hulle is gedurig in die moeilikheid en die skool besluit om iets te doen omdat detensie hulle nie keer nie.

Die Romeo-en-Juliet-moordenaar teister net tieners. Al die slagoffers word op dieselfde manier gevind: lyke langs mekaar neergelê, hul hande inmekaargevleg. Die meisies het ’n steekwond in die bors en die seuns is vergiftig.

Jy sal maar self die boek moet lees om uit te vind of Amir-hulle almal lewend uit die moordenaar se kloue gekom het . . .