Om eksplisiete sekstonele in Afrikaans te lees is nie nuut nie. Dink Marita van der Vyver, André P. Brink, selfs Marlene van Niekerk. Dis vir my dus duister hoekom mense bekommerd is oor die skokwaarde wat hierdie kortverhale gevul met erotiek en wellus dalk kan inhou. 

Ja, die sluimerende begeertes van mense wat hul seksuele begeertes en avontuurlustige seksdrange onderdruk, word ondersoek.

Die sielkunde agter die smagting na lyflike vervulling word bekyk, maar al klink dit na ’n boek wat jy sal wil lees sonder om neer te sit, is daar elemente wat jou bloot nie tot die einde boei nie.

Die verhale probeer slim wees met tydspronge, verskillende vertellers en diepsinnige ondertone, maar uiteindelik skep dit verwarring.

Vir my was dit moeilik om te volg en ek moes dikwels paragrawe weer lees om die betekenis te probeer snap. Sommige verhale het slim ontknopings, maar dit is moeilik om tot daar te vorder.

Lees dit as jy nuuskierig is. Maar aanvaar wat dit is: ’n bundel kortverhale in Mills & Boon-styl, kompleet met die “versagtende” woorde wat vir sommige situasies en dade gebruik word.

Beslis nie ’n boek wat ek gaan onthou nie.

Volg Huisgenoot op Twitter.