Klara en Frederik is twee kinders wat baie van musiek hou en saam met hulle kan kleingoed op reis gaan deur dié interessante wêreld. Wat is die verskil tussen ’n kwartet en ’n kwintet? Wat beteken notasie en intervalle en wat het die tarantella met spinnekoppe te doen?

Aandag word gegee aan instrumente, musiekgeskiedenis, basiese terminologie en die belangrikste komponiste word kortliks bekendgestel. Dit bevat meer as 200 volkleurillustrasies en foto’s, ’n register met sowat 1 000 woorde, uitspraak van vreemde terme en sowat 250 kort artikels oor instrumente, komponiste en jargon uit jazz, klassieke en popmusiek.

 Dié taak is meesterlik uitgevoer deur Ria Smit, wat onder meer nagraadse opleiding in musiekopvoeding en ’n doktorsgraad in leksikografie het. Hierdie musiekensiklopedie is ’n uitstekende verwysingsbron vir musiekonderwysers en ’n heerlike leesboek vir nuuskierige kinders van sewe jaar en ouer.