Terwyl die meeste meisies op haar ouderdom nog droom van trou, is die 25-jarige Mieke reeds geskei. Haar feëverhaal-troue aan ’n Blou Bul-rugbyspeler is verby en nou moet die blonde Pretoriase poppie haar eie pad in die lewe vind. 

Dis makliker gesê as gedaan. Mieke se B.A.-graad en nul werkondervinding beteken haar CV is te dun om werkgewers te beïndruk.

Sy kan nie ’n minuut langer in haar ma se huis bly nie en impulsief besluit sy om saam met die rockgroep Siek op toer te gaan. Sy is heeltemal uit haar element; tog kan die vreemde en soms onplesierige reis die sleutel tot haar toekoms inhou. Skuil ’n rebelse rockmeisie dalk in die koekerige Mieke?

Jana du Plessis se karakters voel eg, van die preutse Mieke tot die boheemse rockrebelle. Al is sy soms ’n buierige karakter, sal lesers so tussen 18 en 25 aanklank vind by Mieke.

Soos baie jong mense van vandag is sy onseker oor wie sy is en waar sy in die wêreld hoort. (En soos baie van hulle meng die karakters hul taal, wat my nogal geïrriteer het.)

Volg Huisgenoot op Twitter.