Die 15-jarige Ricardo is dadelik ingenome met die misterieuse Lily toe hy haar in die 50’s in Lima ontmoet. Maar sy het die hele tyd oor haar identiteit gejok, en toe sy verdwyn, beweeg hy aan met sy lewe.

Hy word ’n vertaler en trek Parys toe, maar deur sy Peruaanse kontakte daar ontmoet hy weer die “slegte meisie”. Nou is sy deel van ’n revolusie en noem sy haarself Arlette. Hy raak weer halsoorkop verlief, maar sy sê hom af en gaan Kuba toe, dié keer saam met ’n ryk man met baie mag.

Dié patroon word herhaal deur die res van hul lewe. Sy soek altyd meer gewaagde verhoudings, maar keer altyd terug na Ricardo in verskillende toestande van verval. En haar wreedheid maak hom byna kranksinnig.

Ek kon dit nie neersit nie. Dit is ’n onweerstaanbare storie oor obsessie en identiteit deur ’n skrywer wat al die Nobelprys gewen het.

Die onverwagte manier waarop die slegte meisie eindelik sake regmaak, is roerend.

The Bad Girl deur Mario Vargas Llosa

Faber & Faber, R119,95

Ons dink: 4/5