Anja is ’n fyn versorgde meisie – van haar “toontjies opgedollie soos ornamentjies” tot haar sagte, wit hande.

Wat maak so ’n meisie as sy in die bos beland vir ’n week lange vakansie en die manne is wilder as die diere? En as sy boonop skielik besef sy sien glad nie kans om met haar Piet te trou nie, want hy voel skielik meer soos ’n boetie vir haar?

Dis die dilemma van die heldin in Liefde in ’n Teekoppie, die eerste van twee verhale in hierdie omnibus.

In die tweede een, Meisie uit die Boendoe, lê ’n afgeleë gemeenskappie op ’n sendingstasie se oorlewing in die hande van Elspeth.

Sy moet die projekbestuurder wat ’n nuwe pypleiding gaan bou, oortuig dat daar aan hierdie mense ook water voorsien moet word.

Elspeth doen dus aansoek om sy sekretaresse te word – en kom uit die ander kandidate agter dat hierdie “sexy, gorgeous” man sy meisies skraps gekleed verkies . . .

Dit is twee van Magdaleen Walters se gewildste liefdesverhale dié – nou lekker saam uitgegee vir dubbele leesgenot.