Dis ’n meesleurende storie dié oor ’n disfunksionele gesin en die eksentrieke Ierse woonbuurt waar hulle bly.

Baba Frankie word onder ongunstige omstandighede gebore. Sy is die produk van een nag van passie, en toe haar ma tydens haar geboorte sterf, word sy onder haar pa, Noel Lynch, se sorg geplaas.

Noel, ’n alkoholis op die herstelpad, sukkel maar ’n bietjie. Gelukkig kry hy hulp uit verskeie oorde.

Hy kan op sy uiters gelowige ouers se knoppie druk, sy effens vreemde tannie uit Amerika is ’n steunpilaar en baie van sy bure in St. Jarlaths-singel in Dublin gee nie om om uit te help nie.

Frankie se koms verenig die gemeenskap, maar nie almal is gelukkig met die ongewone lewensomstandighede nie, onder andere die inmengerige maatskaplike werker Moira, wat seker is Frankie sal gelukkiger wees in ’n pleegsorghuis.

Maeve Binchy vertel ware familiedramas en kry dit reg om die leser se aandag te behou. Minding Frankie is een van die skrywer, wat bekend is vir haar goed ontwikkelde karakters, se juwele.

Minding Frankie deur Maeve Binchy

Orion, R153

Ons dink: 3/5