Insp. Allesandro Palliotti, ’n aantreklike speurder en onwillige ster van Florence se polisiediens, ondersoek ’n moordsaak as ’n guns aan die polities sensitiewe burgemeester.

Dan vind ’n tweede moord plaas, en later ’n derde.

Die slagoffers is almal bejaarde mans wat pas vereer is vir hul heldedade toe hulle in die Tweede Wêreldoorlog teen die Duitsers geveg het. Maar die moordenaar los sout in hul mond – wat hulle brandmerk as verraaiers.

Die ondersoek koppel die hede met die storie van twee susters uit ’n vooraanstaande familie in Florence wat in die donker dae van 1943 en 1944 betrokke geraak het by ondergrondse bedrywighede en in Duitse aanhouding dood is.

’n Amerikaanse vrou wat navorsing doen oor haar Italiaanse oupa se destydse aktiwiteite, verskyn ook op die toneel.

Die skrywer vermeng ’n misdaadstorie met moderne geskiedenis, menslike moed en ’n verrassende einde in ’n meesleurende verhaal.

The Villa Triste deur Lucretia Grindle

Mantle, R141,95

Ons dink: 3/5