Jack Reacher is sonder twyfel die nommereenheld van hedendaagse rillerfiksie.

In sy 15de heldetog beland die gewese militêre polisieman in ’n bose hoekie van die onherbergsame Nebraska. Hy is steeds pimpel en pers ná die klimaks waarop 61 Hours geeindig het.

Jack beland in ’n konfrontasie met ’n sinistere familie wat besig is met die een of ander onheilige handeldrywery. En iewers is ’n skakel met die moord op ’n kind 25 jaar tevore.

Soos te verwagte word die slegte ouens dubbel en dwars (en bloedig) op hul plek gesit. Want jy mors nie met Jack Reacher nie.

Hy begin nooit ’n bakleiery nie, maar as ’n bakleiery hom vind, is hy die een wat dit stopsit. Vinnig. En baie pynlik.

Dis jammer hy’s net ’n storieboekheld, want ’n dosyn van hom sal baie van die verkeerde dinge in die wêreld regsien. Ek sien uit na die volgende boek in die reeks.

Worth dying for deur Lee Child

Bantam Press, R174

Ons dink: 4/5