Suzy, ’n middeljarige predikantsvrou, is nie regtig uitgeknip vir dié rol wat sy moet speel nie.

Haar man is seksueel koud en daar is nie sprake van ’n mooi intieme ma-dogter-verhouding tussen Suzy en Alma nie.

Suzy se vriend Jay-Jay sorg soms vir afleiding. Dis te danke aan hom dat haar pad kruis met dié van ’n man met die onweerstaanbare naam Dante del Marco, ’n hiper-aantreklike, skatryk sakeman.

En Suzy slaag met ’n vloekskoot daarin om sy persoonlike assistent te word.

Dit pas haar dat hulle op ’n sakebesoek Londen toe moet gaan: Daar is dinge in haar verlede wat reggemaak moet word . . .

Soms gly die ratte van Kristel Loots se virtuele tikmasjien en glip ’n sin of paragraaf deur wat moes gebly het, maar dit gebeur min genoeg dat dit nie steurend is nie.

Skep gerus ’n stewige sny van dié lemoenkoek in. Selfs die versiersuiker op die koek is net mooi soet genoeg.

Lemoenseisoen deur Kristel Loots

Lapa, R165

Ons dink: 4/5