Die hygromanskrywer Esmerelda se seun, Benjamin, lees in die koerant van babageraamtes wat in Magoebaskloof gevind is. In Esmerelda se verbeelding ontstaan ’n 14-jarige meisiekind genaamd Sus in ’n agterlike landelike konteks wat herhaaldelik deur haar pa en broer swanger gemaak word.

Esmerelda laat vaar die seksstorie in haar tikmasjien om Sus se lewe in oënskou te neem: haar huislike omstandighede, hoe sy aan die kinders kom en van hulle ontslae raak.

Ons leer ken Esmerelda as ’n veteraan van ’n menigte liefdesverhoudings, maar ’n goeie ma wat die pot aan die kook kon hou deur ’n haarkapper, kelnerin en skrywer te wees. Die skerp Benjamin weet nie wie sy pa is nie en skaam hom soms vir sy ma, maar bly lojaal.

Kelder is die talentvolle skrywer se tweede roman ná Engel in die Hoenderhok (2009). Dit lees lekker en die storie ontroer met sy prikkelformule en al. Hopelik sal Taljaard in die toekoms die kans kry om meer realistiese karakters te skep.

Volg Huisgenoot op Twitter.