Jy kan sommer op die omslag van dié roman al sien hier gaan sewe idees per bladsy uitrol.

Dis ’n kleurryke dog deurmekaar spul: drie jong rugbysterre (Chippa van Metzinger, Allan September en Thando Mkhalipi), ’n joernalis (Flip Geldenhuys), rugbygrootkoppe en sakemanne (oom Knuckles Waterboer en Eugène Rademeyer), die Springbok-afrigter (Boychie van Heerden), ’n struggle-oorlewende (Nasty September), twee Australiese gangster-broers (Mike en Joey Bonavita), ’n Russiese bendelid van die Kaap (Oleg Smolin) en dan natuurlik die kriptiese Kaapstad Karma-polisie (Christie Malherbe, ook bekend as die Kaptein, en Ava Reskot Dampies, oftewel Sussie Middernag).

Laasgenoemde twee hou Kaapstad se strate skoon van verkragters en ander skurke, wat op verskeie maniere onder meer hul knaters verloor. Die rugbysterre speel Superrugby en maak dan reg vir die Drie-nasies (met iets soos Kamp Staaldraad tussenin).

Die afrigter, grootkoppe en bendelede maak droog, verloor iemand anders se besending dwelms en voer dan die ouens laer af in die voedselketting vir die haaie in Valsbaai.

Die Bonavitas verwed ’n fortuin op die uitslag van die Drienasies . . . en begin dan stappe doen om hul “belegging” te beveilig. Gou-gou dans die poppe en waai die koppe.

As jy Kaapstad ken, sal jy die detail geniet: elke pad wat gery word, elke plek aan die kus, Langstraat se naglewe, Nuweland se energie; De Villiers laat hierdie landskap lééf.

Hier’s geweld en vloekwoorde, vuishoue en agterplaasbraaie, drieë en drank, kwinkslae en volspoed-aksie. Met al die karakters verloor jy soms die draad van die storie (die hele ding kort ’n stewige redigeerklap), maar dis nooit vervelig nie.

As jy hou van flieks soos Quentin Tarantino se Kill Bill en van rugby, dan is dit vir jou dié.

Volg Huisgenoot op Twitter.

Soek jy ‘n winskopie? Kry hierdie produk teen die beste prys. KLIK HIER