Jodi Picoult skrik nie vir omstrede onderwerpe nie, en in hierdie boek raak sy verskeie aan, soos troues tussen mense van dieselfde geslag, onvrugbaarheid, Christelike evangelisasie en gay ouerskap.

Nadat Zoe ’n dekade lank sukkel om swanger te raak, verbrokkel haar huwelik en sy en haar man, Max, gaan hul onderskeie gange.

Sy raak verlief op Vanessa, ’n skoolberader, en hy word ’n wedergebore Christen.

Zoe wil steeds ’n kind hê, en wil die embrio’s wat sy en Max tydens hul vrugbaarheidsbehandeling gevries het, gebruik om ’n kind te kry.

Maar as gevolg van mediese redes kan sy nie self swanger raak nie, en Vanessa stem in om die surrogaatma te wees.

Maar Max glo homoseksualiteit is sonde, en so begin ’n intense hofdrama.

Picoult is deur haar seun geïnspireer om haar 18de roman te skryf nadat hy haar vertel het hy is gay. ’n Mens kan sien aan wie se kant die skrywer is, maar die einde is steeds verrassend en aandoenlik.

Sing You Home deur Jodi Picoult

Hodder & Stoughton, R159,95

Ons dink: 4/5