“Sy haal ’n snesie uit haar handsak, probeer die ergste nattigheid daarmee afvee. Met elke vee sê sy hard en duidelik in haar kop: Ek. Is. Jaz. Coetzee. En. Ek. Doen. Fashion. Sy sal nie toelaat dat hierdie aaklige mense op haar drome kom piepie nie.”

Die aaklige mense is die Londenaars wat nie oor hul voete val om die portefeulje met al haar klere-ontwerpe te sien nie, wat op die tube teen haar stamp sodat sy koffie op haar duur baadjie mors.

Dis haar eerste dag in die wêreldstad en in die kop van dié bedorwe rykmanskind sou sy soos ’n jong Kate Moss deur die strate stap en mense gaan haar smeek om vir hulle te kom werk.

Haar eerste aaklige dag is nie haar laaste een nie. Daar is haar huismaat wat heeltyd vir haar wil bid, die moontlikheid dat sy dalk ’n waitress moet word en dan droog haar pa se geldkraantjie op.

Jana du Plessis se heerlike debuut gaan baie bekend klink vir al die Saffas wat al in Londen gaan werk het. Ander jonges wat nog nie daardie paadjie alleen aangepak het nie, kan ook die boek koop.

VAT ’N GAP DEUR JANA DU PLESSIS

Tafelberg

Ons dink: 3/5