Die Jordaans is stoere Afrikaners en Rosalie se ma is ongelukkig omdat haar dogter werk as projekbeplanner by die lodge op die buurplaas aanvaar; die lodge behoort aan Juan-Carlos D’Oliveira, die Portugese kafeebaas se seun.

Juan-Carlos se minnares en jong kind bly saam met hom daar. Met die kontrak wat hy Rosalie aanbied, daag hy haar uit om drie maande lank die aantrekkingskrag tussen hulle te onderdruk en nie sy verhouding te ondermyn nie (of so lei ’n mens af; dié aspek van die roman is effens vaag).

Verrassings is volop en die held so sexy dat ’n mens wil begin spaar aan ’n vliegkaartjie Portugal toe. Daar is ’n lang, knetterende toneel wat lesers se wenkbroue sal skroei, maar smaakvol bly.

Rassisme, snobisme, gay-wees en seksuele teistering word betrek, maar dit voel nooit of dit aan lesers opgedring word nie.

Die intrige en emosionele impak sal genrelesers enduit boei. Kapp skryf met haar hele hart, en met ’n vreesloosheid wat ander skrywers in die genre na hul asem sal laat snak.

Huis van die wind deur Sophia Kapp,

LAPA

Ons dink: 4/5

Volg Huisgenoot op Twitter.