Hierdie handleiding is ’n goeie beginpunt vir die amateursterrekyker, maar ook ’n noodsaaklike verwysingsbron vir die ingeligte tuurkundige. Daarby is dit vol hoogs informatiewe foto’s van hoë gehalte.

Die inleiding dek die geskiedenis van sterrekunde en strek tot by die modernste tegnieke van waarneming en kennis van die hemelruim.

Jy kan ook ’n idee kry van wat  ’n goeie soort teleskoop is om aan te skaf vir jou bepaalde doeleindes en hoe die verskillende soorte teleskope (’n refraktor vs. ’n Newton-reflektor, byvoorbeeld) aanmekaargesit is.

’n Mens word dan bekendgestel aan al die planete en dwergplanete (waaronder Pluto deesdae val) binne ons sonnestelsel, asook interessante en beeldskone verkynsels waarvoor jy op die uitkyk kan wees, soos sodiakale lig en auroras.

Laastens is daar volledige sterrekaarte om jou die verskillende konstellasies en sterrehope te help identifiseer wat jy vanuit Suid-Afrika kan waarneem.

Hierdie boek is noodsaaklik vir diegene wat meer wil weet oor wat die ligte in die donker is.

Volg Huisgenoot op Twitter.