Al woon jy waar en al het jy net ’n klein lappie grond of ’n reuse landgoed, sal hierdie boek jou help om ’n pragtige tuin uit te lê wat boonop maklik is om te onderhou.

Die tuinboukundige Ernst van Jaarsveld werk al vir 35 jaar met inheemse plante en sedert 1976 by die botaniese tuin Kirstenbosch in Kaapstad.

Sy boek is vir almal wat ’n tuin wil hê sonder om ons kosbare waterskat uit te put.

Hy verdeel Suid-Afrika en Namibië in streke en gee maklik verstaanbare raad oor gepaste inheemse plante vir elke gebied – plante wat natuurlik daar voorkom en wat min menslike ingryping (soos natlei) nodig het.

Hy sluit ook waardevolle plantlyste in sodat jy die regte tuin vir jou omgewing kan plant, en gee raad oor hoe en waar om te plant en hoe om jou tuin in stand te hou sodat jy jou bure jaloers sal hê met jou pragtige lushof.

Dié waardevolle gids is pragtig geïllustreer en gee jou al die inligting wat jy nodig het om jou tuin nog voor die vakansie te begin regruk.

Waterwise gardening in South Africa and Namibia deur Ernst van Jaarsveld

Struik Lifestyle, R300

Ons dink: 4/5