Nee, dis nie die bekende Britse aktrise wat hierdie kinderboek geskryf het nie. Hierdie Emma het baie sukses behaal met haar feetjiekarakter Felicity.

Noudat Felicity Afrikaans praat, is haar naam Lili en het sy ’n wensfeetjie geword. Sy woon binne-in ’n boek vol prentjies met blinkers, maar dis nie die beste van alles nie. Nee, dis die uitvouprentjies en oopvouflappies!

Jy blaai nog so om, dan dop Lili by ’n pers venster uit of jy lig ’n dak op en daar is Lili en haar maats besig om die mooiste rokke te soek vir die wonderlike Bloeiselbal wat hulle gaan bywoon.

Dis ’n regte, egte meisietjieboek vol van die mooiste prente en pragtige Afrikaans deur Jaco Jacobs. ’n Mens kan net hoop dat LAPA nog boeke in hierdie reeks in Afrikaans sal uitgee.

Gee dit present vir enige jong meisietjie wat al self haar hande kan gaan was voor sy deur hierdie besonderse boekie begin blaai.

Lili die Wensfeetjie – Dartel en draai deur Emma Thomson

LAPA Uitgewers, R100

Ons dink: 5/5