Heleen van Heerden woon in Oranjezicht, Kaapstad, in ’n groot huis wat sy nie kan bekostig nie. Sy moet noodgedwonge loseerders inneem nadat haar eksman emigreer saam met hul twee seuns en sy nuwe vrou. 

Die vroulike loseerder, Fey, se ouers is hippies en sy ’n ontkleedanser, maar nie die gewone soort nie.

Sy en haar vriendin Chamonizelle het ’n maatskappy wat by partytjies strip, maar op ’n ironiese manier (as so iets moontlik is). Die gay boys Jerry en Jeandré is twee netjiese jong mans, suksesvol en slim, die een eg Kaaps en die ander van Boksburg.

Fey en Heleen is rooikoppe en die derde een van die titel, Saskia, woon langsaan. Dié voormalige model is in haar 40’s, steeds beeldskoon, ly honger om haar figuur te behou en verkoop kraletjies as dekmantel vir haar handel in kokaïen.

Die karakters se lewens verander drasties toe Heleen haar motor wil verkoop, die transaksie verkeerd loop en ’n lyk in die kattebak beland.

Daar word baie bladsye afgestaan om hierdie kleurryke klomp aan lesers bekend te stel, maar dit pla min; trouens, hulle is so geloofwaardig en eietyds dat dit ’n plesier is om in hul koppe te klim.

Dis interessant dat die skrywers dit kon regkry om aan elkeen sy eie, unieke woordeskat te gee en dit dwarsdeur vol te hou. Die vloekwoorde en sleng is goed gemotiveer en word nooit vir effek aangewend nie.

Dis ’n verrassende debuut deur die Radloffs. Hoeveel slim storieboeke kry ’n mens nou eintlik vir Afrikaanse grootmense?

Volg Huisgenoot op Twitter.

Soek jy ‘n winskopie? Kry hierdie produk teen die beste prys. KLIK HIER